Wêreldekonomie steeds onder druk

Die wêreldekonomie sukkel steeds om kop bo water te hou, maar daar is tog ook vooruitsigte dat sake kan verbeter.

Die drie groot wêreldekonomieë wat die wa deur die drif moet sleep om die wêreldekonomie op te lig is die VSA, China en die EU.

China se nuutste inligting toon ʼn verwagte ekonomiese groei van 6.7%, die laagste in sewe jaar. Werkloosheid het met 6-miljoen toegeneem en maatskappye raak toenemend minder mededingend. Die land se korporatiewe skuld staan reeds op $1.3-triljoen.

Die EU se kwartaallikse ekonomiese groei vir 2015 was gemiddeld 0.3%. Die eerste kwartaal se groei vir 2016 was 0.6%, maar daar is onsekerheid of dit volhoubaar is. Werkloosheid staan tans op 10.2%

Die VSA se werkskepping vir April van 160 000 was die laagste vir ses maande en die vooruitsigte is onseker. Werkloosheid het in 2010 ʼn laagtepunt van 10% gehad en staan tans op 5%. Die ekonomiese groei vir die eerste kwartaal vanjaar was 0.5%. Daar gaan al hoe meer stemme op wat waarsku dat die ekonomie onder groter druk verkeer as wat besef word weens regeringskuld en die misbruik van groot geldmaginstansies. Self Alan Greenspan, ‘n voormalige goewerneur van die Federal Reserve (VSA-reserwebank) van 1987 – 2006 het onlangs gewaarsku dat die land ʼn ekonomiese krisis in die gesig staar, tot groot ergernis van Obama.