Weerlig tref talle in Europa

In Parys, Frankryk is elf mense Saterdag deur weerlig getref terwyl hulle onder ’n boom geskuil het in ’n park om die ligte reën te probeer ontduik.

Die mense, waarvan agt jong kinders is, het ’n verjaarsdagparty gehou toe ’n ligte reënbui uitgesak het.

Die volwassenes het gesê die kinders moet onder die boom gaan skuil om nie nat te reën nie, toe die weerlig die elf mense getref het.

Al elf het brandwonde opgedoen en is in ’n nabygeleë hospitaal behandel, waarvan vier kinders en twee volwassenes erge brandwonde opgedoen het en in die hospitaal gehou word vir behandeling.  

Die voorval het in die noordwestelike deel van Parys gebeur waar die kinders, almal tussen 7 en 14 jaar saam met ’n paar volwassenes partytjie gehou het.

Dieselfde dag is 16 mense, waarvan 14 kinders is, tydens ’n sokkerwedstryd deur weerlig getref in die deelstaat Rynland, in Duitsland, en moes na ’n hospitaal geneem word.

Drie van die mense het baie ernstige brandwonde opgedoen toe die weerlig hulle blykbaar regstreeks getref het.

Een van die wat ernstig beseer is, was die afrigter van ’n span wat inderhaas per helikopter na die hospitaal vervoer moes word.

’n Ooggetuie het later beweer dat dit ’n eienaardige voorval was, want daar was geen sprake van reën nie en die wolke maar skraps.

’n Geneesheer het gesê dit is merkwaardig dat die twee voorvalle op dieselfde dag in die twee lande plaasgevind het, maar dat dit geen lewensverlies tot gevolg het nie.

In Pole is een man gedood deur weerlig, en tientalle met brandwonde in hospitale opgeneem vir behandeling.

Later is berig dat drie van die mense wat in Duitsland getref is, ook beswyk het in die hospitaal.