Waterkrisis dreig op Kroonstad

Een van die grootste waterkrisisse in die land staar Kroonstad, een van die grootste landbougebiede in die Vrystaat, in die gesig weens die droogte en munisipale wanbestuur.

Inwoners het vandeesweek tydens ‘n gemeenskapsvergadering geluister na voorleggings om die dreigende krisis die hoof te bied.

Van die oplossings wat aangebied is aan die bykans 2 000 000 inwoners van die dorp is dat water op strategiese punte geplaas sal word en die herbenutting van gesuiwerde rioolwater.

Die watertekort raak onder andere Kroonstad se twee groot abattoirs, een van die grootste meulens in die provinsie, ’n kompleks van korrektiewe dienste, ‘n weermagbasis, verskeie skole met koshuise en ’n gewilde vakansieoord.

Die munisipaliteit het saam met Randwater en die departement van water en sanitasie ‘n taakspan saamgestel om die waterkwessie aan te spreek.

Die organiseerders van die Bokkieweek het intussen besluit om voort te gaan met hulle reëlings om in Julie ‘n toernooi op die dorp te hou.

Sowat 8 000 mense sal saamtrek vir die geleentheid en daar is besluit dat die besoekers water sal saambring.

Foto – ‘n Bykans leë Bloemhoekdam buite Kroonstad