Wapenverbod teen Libië opgehef

Verskeie lande het reeds hulle goedkeuring gegee dat wapens aan Libië voorsien mag word omdat die nuut verkose eenheidsregering, demokraties verkies is.

Westerse lande het die nuwe regering aangemoedig om die stryd teen die terrorisme in die land te hervat en ook te verhoed dat meer terroriste die land insypel.

Die besluit is Maandag geneem tydens ’n leiersberaad in Wene, waar gereed gemaak word om die wapenverbod teen die land te verlig.

Die wapenverbod is teen die land ingestel weens die diktatorskap wat etlike dekades geheers het, en wat daartoe gelei het dat terroriste soos die Boko Haram verskeie gebiede ingeneem het.

Die terreurgroep wat ook ’n ooreenkoms van samewerking met die Islamitiese Staat (IS) het, is glo deel van die netwerk wat dwelmmiddels smokkel tot in Suid-Afrika.

Hulle is ook verantwoordelik vir die migrante se beweging na buurlande en Europa om die slawerny onder terroriste se mag te ontkom.

Die terreurgroepe is gretig om dele van Libië se ryk olievelde te beheer om verlore inkomste te probeer herwin.

Duitsland se minister van buitelandse sake,  Frank-Walter Steinmeier, het die hoop uitgespreek dat die voorsiening van wapens aan Libië ook ’n positiewe uitwerking sal hê op die bestryding van terrorisme.

Ministers van buitelandse sake van minstens 21 lande het bevestig dat hulle gereed is om opleiding en toerusting te voorsien aan die nuwe regering wat hulle in staat sal stel om die terreurgroepe te beveg.

Amerika het intussen onderhandelings aangeknoop met die nuwe regering van nasionale eenheid om wapens te voorsien.