VSA militêr betrokke in Jemen

Die Pentagon moes uiteindelik erken dat hy militêr in Jemen betrokke is en dat Amerikaanse soldate diens verrig in die terroris-geteisterde land.

Die soldate is ontplooi om die Al-Kaïda terroriste te beveg terwyl die land ook in ’n burgeroorlog gewikkel is.

Die VSA het blykbaar ook ondersteuning gegee aan die Verenigde Arabiese Emirate wat self ook weerstand bied teen die Al-Kaïda terroriste.

Die Amerikaanse magte werk ten nouste saam met ’n koalisie van Arabiese leërmagte wat die terroriste in die gebied probeer uitwis.

’n Woordvoerder van die Pentagon het gesê dit is belangrik dat Amerika betrokke bly teen die terroriste aangesien dit nie wenslik is dat terroriste later ’n hawestad beheer wat ’n bedreiging vir almal kan wees nie.

In die afgelope jaar is meer as 6 500 mense dood in Jemen weens die onluste wat reeds etlike jare duur.