Vrou ongedeerd na trein oor haar ry

’n Ou dame van 91 jaar moes inderhaas platval tussen twee spoorlyne om die aanstormende trein te probeer ontsnap toe sy besig was om oor die spoor te stap.

Die trein wat teen ’n snelheid van 160 kilometer per uur voortgesnel het naby die noordelike dorp Langwedel, in Duitsland het die dame geen beserings besorg nie, en sy het slegs ligte kneusings opgedoen toe sy vinnig moes platval.

Polisie het later gesê die ou dame het ’n gehoorprobleem, en kon aan niks anders dink as om so vinnig moontlik plat te val nie.

’n Woordvoerder van die treindiens sê dit is ’n uitsonderlike voorval, aangesien die moontlikheid altyd bestaan dat so ’n persoon se klere kan vashaak, met katastrofiese gevolge.

Die trein het teen sy dolle vaart voortgesnel tussen Hanover en Bremen waar die treindrywer sy tuig ondersoek het omdat hy klapgeluid gehoor het.

Nadere ondersoek het getoon dat die ou dame se loopring in die slag gebly het omdat sy nie tyd gehad het om dit uit die pad te kry nie.

Die treindrywer was so geskok dat hy nie verder kon werk nie, en moes vir die dag vervang word deur iemand anders.

’n Ander trein wat op die spoor langsaan, in die ander rigting beweeg het, het die ou dame gesien lê tussen die spore en die polisie daarvan in kennis gestel.

’n Polisiewoordvoerder sê dit was pure geluk dat die ou dame nie iets ernstigs oorgekom het nie.