Verskuif Olimpiese Spele na veiligheid

Met die epidemie van die Zika-virus in Brasilië, behoort die Olimpiese Spele se duisende atlete beskerm te word deur die byeenkoms na ’n veiliger gebied te verskuif.

Dit is die mening van invloedryke dokters in die wêreld wat meen die wêreldklas atlete behoort nie blootgestel te word aan die Zika-virus nie.

Die geneeskundiges sê indien daar met die Olimpiese Spele in Rio de Janeiro voortgegaan word, kan dit lei tot Zika-virus besmetting en ’n wêreldwye epidemie veroorsaak.

Die infeksie wat deur muskiete en seksuele aanraking oorgedra word, het reeds duisende verwagtende vroue in Brasilië besmet, met die gevolg dat die ongebore babas daardeur aangetas word.

Tans beskik die mediese wetenskap oor geen middel wat verwagtende moeders kan beskerm dat hulle babas nie geaffekteer word nie, en bestaan die moontlikheid dat die land binne enkele maande derduisende babas het wat verstandelik aangetas is.

Die dokters meen met die verwagte 500,000 buitelandse besoekers na die Spele, kan die wêreld sy grootste virus besmetting tegemoetgaan wat nog ooit opgeteken is.