Verdwene Britse duikboot opgespoor

Vir tientalle jare word gespekuleer oor wat geword het van die HMS P311-duikboot van Brittanje wat tydens die Tweede Wêreldoorlog net spoorloos verdwyn het.

Die oorlogsvaartuig het met al sy bemanning weggeraak in die Middellandse See, maar is glo nou deur ’n Italiaanse diepseeduiker gevind wat die misterie uiteindelik kan opklaar.

Massimo Bondone, ’n 58-jarige diepseeduiker met jare se ervaring, het glo die tuig op ’n diepte van sowat 80 meter ontdek.

 Die skeepswrak is ongeveer vyf seemyl ten ooste van die klein eiland, Tavolara gevind waar dit in Januarie 1943 spoorloos verdwyn het met 71 bemanning aan boord.

Die duikboot was bestem om deel te neem aan ’n Geallieerde aanval op Italiaanse oorlogskepe, maar het gou verdwyn en is nooit weer gevind nie.

Die vermoede bestaan dat hy moontlik ’n seemyn getref het, en vissermanne het destyds beweer dat hulle ’n groot lawaai gehoor het wat skielik stil geword het.

Die duiker sê hy is baie seker dat die tuig wel die Britse duikboot is, want twee torpedojaers is nog aan die sykante en voldoen aan die beskrywings in historiese dokumente.

Hy sê daar is skade aan die boot se boeg wat waarskynlik deur ’n seemyn veroorsaak is, maar andersins is dit nog in ’n puik toestand.

Hy reken die bemanning het omgekom weens ’n suurstoftekort, en hy wil nog verdere ondersoeke doen aangesien die Britse regering blykbaar nie belangstel in die “herwinning” van die tuig nie.

Foto – Die duikboot voor sy verdwyning