Verdeeldheid in Duitse politiek al duideliker

Die politieke verdeeldheid in Duitsland het na die oppervlakte gekom en die moontlikheid dat Bondskanselier Angela Merkel se Christen Demokrate Unie (CDU) die volgende verkiesing alleen moet veg.

Die opkoms van die Alternatief vir Duitsland het die koalisiepartye van Merkel en die Beierse leier van die Christen Sosiale Unie (CSU) verder van mekaar gedryf.

Die hoofoorsaak vir die verwydering is die verskillende benaderings oor die onwettige migrante wat Duitsland instroom met Merkel se “oop deur” beleid.

Politieke ontleders sê die CSU oorweeg dit baie sterk om volgende jaar se verkiesing op eie stoom aan te pak, en die vermoede bestaan dat ’n koalisie met kanselier Merkel se CDU dan van die baan kan wees.

Die CSU-voorsitter, Horst Seehofer, het in ’n strategie komiteevergadering gesê die party moet ernstige oorweging gee aan die moontlikheid om sy beleid te bevorder deur alleen die verkiesing in te gaan.

Die vermoede bestaan dat die CSU, wat ernstig verskil met Merkel se “oop deur” beleid, nie kans sien om die beleid tydens die verkiesing te verdedig nie, en eerder wil konsentreer op sy party se beleid.

Die AFD is ook ’n bedreiging waarmee rekening gehou moet word, aangesien die party reeds in 8 van die 16 Duitse deelstate parlementêre verteenwoordiging het en na raming sowat 14% steun geniet.

Seehofer sê die CSU moet so optree dat ondersteuners weet hulle stem vir die party en nie vir Merkel se CDU nie.