Uitspraak voorbehou oor adresse

Die grondwetlike hof het uitspraak voorbehou in die saak waarin die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK) ‘n dringende aansoek om appèl gerig het teen ‘n vroeëre beslissing van die verkiesingshof dat die instelling die adresse van geregistreerde kiesers moet voorsien aan kandidate wat aan die verkiesing deelneem.

Hierdie beslissing van die verkiesingshof kan glo miljoene mense diskwalifiseer om te gaan stem.

Die hele sage volg nadat die grondwetlike hof laat verlede jaar bevind het dat die tussenverkiesing gedurende 2013 in Potchefstroom nie vry en regverdig was nie.

Ingevolge die hofbeslissing moet alle nuwe kiesers wat registreer besonderhede omtrent hulle adresse of voldoende detail verskaf oor waar hulle bly om hulle in ‘n kiesafdeling te plaas.

Die tussenverkiesing sou weer in Februarie vanjaar plaasgevind het, maar die verkiesingshof het op die laaste nippertjie ‘n stokkie daarvoor gesteek nadat ses onafhanklike kandidate gekla het dat meer as 4 000 adresse op die kiesersrol ontbreek. Uiteindelik is verskeie tussenverkiesings regoor die land uitgestel.

Volgens die OVK sal die munisipale verkiesings, wat op 3 Augustus plaasvind, nie kan voortgaan indien die verkiesingshof se uitspraak gehandhaaf sou word nie.

Tans kan die OVK nie die adresse van sowat 7,9 miljoen kiesers wat geregistreer het, verskaf nie aangesien hulle nie op die OVK se stelsel is nie.