Turkse premier tree uit

Die onmin tussen die Turkse president  en die premier, Ahmet Davutoglu, het breekpunt bereik en daarom het die premier sy bedanking ingedien.

Alhoewel dit te wagte was dat ’n nuwe premier aangewys sou word tydens die komende partykongres, is die skielike bedanking onverwags.

Politieke ontleders in Europa is van mening dat president Erdogan, wat nie ’n regeringsleier is nie, maar slegs ’n simboliese amp beklee, besig is om self na ’n groter magsposisie te beweeg.

Ahmet Davutoglu het klaarblyklik geen begeerte om langer in die AKP se struktuur te dien nie, want hy kan nie as partyleier voortgaan noudat hy bedank het as premier nie.

Die partybestuur het bevestig dat die beoogde kongres voortgaan op 22 Mei om onder meer ’n nuwe partyleier aan te wys, wat dus outomaties die nuwe premier sal word.

Vrees bestaan onder lojaliste dat die president iemand sal voorstel en organiseer dat so ’n persoon verkies word wat ondergeskik sal wees aan die giere van die president.

Die mening is deur verskeie hooggeplaastes uitgespreek dat die president se mag aansienlik sal uitbrei vandat die huidige premier bedank het.

’n Woordvoerder van die AKP het in ’n verklaring gesê geen nuwe verkiesing word uitgeskryf nie want die huidige regering het ’n mandaat wat strek tot 2019.

Duitse politici het die bedanking van die Turkse premier as ’n ernstige terugslag beskryf en hulle kommer uitgespreek oor die moontlike toekomstige verhouding met die land.