Trump kry nog meer ondersteuning

Die Republikeinse presidentskandidaat in Amerika, Donald Trump, het uit ’n onverwagse oorde groot steun gekry, wat sy kanse om in die Wit Huis te kom, ’n verdere hupstoot gee.

Die uiters magtige en invloedryke wapenorganisasie, die “National Rifle Association” het tydens hul pas afgelope kongres besluit om hulle steun toe te sê aan die miljardêr.

In 2012 het die organisasie sy steun aan die republikeinse kandidaat, Mitt Romney gegee wat nie die pyp kon rook teen Obama nie.

Die organisasie se lede is sterk gekant teen Hillary Clinton wat ’n voorstander is van strenger wetgewing en groter wapenbeheer.

Die Demokrate voer reeds vir jare ’n openlike stryd teen die  “National Rifle Association” en poog om nog een regter aangestel te kry wat ten gunste van wapenbeheer is, dan kan hulle die stryd wen.

Trump het in ’n toespraak hom uitgespreek teen die poging van pres. Obama wat groter beheermaatreëls wil inbring deur wetgewing te verander.

Hy het onderneem om wapenbesitregte te herstel en Obama se regulasies ongedaan te maak, wat hom die steun van talle Demokrate en wapen-liefhebbers besorg het,

Die Wapenwet veranderings wat deur die Obama-regering voorgestaan word, en deur Hillary Clinton gepropageer word, is deur Trump afgeskiet toe hy daarop gewys het dat dit soortgelyk is aan die Franse se wet wat nie slaag nie.

Hy het ook gesê as die Franse toegelaat sou word om hulle wapens te dra, sou die Parys-slagting dalk heel anders verloop het.