Trump en Clinton in die wedloop

Die Republikeinse presidentskandidaat, Donald Trump, het gedurende die afgelope twee weke soveel steun bygekry, dat die liberale meningspeilers nou moes erken dat hy meer steun geniet as Hillary Clinton van die Demokratiese Party.

In die twee afsonderlike peilings is gevind dat Trump ’n kortkop voor Clinton is, terwyl hy nog drie weke gelede ’n groot agterstand gehad het.

In die peiling wat deur die konserwatiewe media, Fox, gedoen is, het Trump 45% teen Clinton se 42% gehad.

Die tweede peiling wat deur die uiters liberale CNN vrygestel is, toon dat Trump 42% en Clinton 37% steun geniet.

Die twee peilings het die tonge los in Amerika, en politieke ontleders meen die vinnige verandering in steun spruit uit Clinton se talle geraamtes in die kas, terwyl die linkse media tot op hede niks kon vind waarmee hulle Trump kon kruisig nie.

Die opnames toon glo dat Trump die gunsteling is onder mense in die plattelandse gebiede, terwyl sy vermoë om talle Demokrate se steun te kry, ’n geweldige bekommernis vir die Clinton-kamp is.

Liberale koerante het erken dat hulle pogings om van Trump ’n karikatuur te maak, presies die teenoorgestelde uitwerking op kiesers teweeggebring het.
In die vorige peiling wat deur Fox vrygestel is, het Clinton nog gerieflik voorgeloop met 13% en het CNN so ’n groot voorsprong aan Clinton toegeken dat Trump kwalik 35% van die kiesers se steun sou geniet.

Trump se sterk aanvalle op die Clinton-egpaar het klaarblyklik ’n groot uitwerking op die Demokrate se kiesers, en alhoewel daar nog ’n lang en stil pad voorlê na November se verkiesing, het Trump se informante klaarblyklik meer skietgoed wat hy vorentoe sal gebruik.