Tonne dwelms in Colombia gevind

Die owerheid van Colombia het beslag gelê op dwelmmiddels ter waarde van meer as $240 miljoen tydens ’n klopjag die afgelope naweek.

Die Colombiaanse polisie het die dwelms naby die grens met Panama gevind waar dit versteek was onder ’n snelweg en ’n piesangplantasie.

Slegs drie mense is gearresteer tydens die klopjag, maar die vermoede bestaan dat meer mense mettertyd aangekeer sal word.

Die president van Colombia, Juan Manuel Santos, het die polisie gelukgewens met hulle uitstekende werk wat hy beskryf het as ’n “kopskoot vir die kriminele in die land”.

Die klomp dwelms is onder veilige bewaking van die land se weermag geplaas tot dit vernietig kan word.

Pakke en pakke kokaïen is glo deur die “Clan Usuga” kartel se dwelmsmokkelaars daar versteek wat later verder versprei sou word.

Die kartel wat die magtigste smokkelgroep in Colombia is, word glo gekoppel aan ’n aktivistiese politieke beweging, en hulle leier word reeds vir jare deur die Amerikaanse owerheid gesoek.

’n Prysgeld van $5 000 is op die leier se kop as hy lewend in die hande van die veiligheidsmagte kan beland.