Terroriste verander strategie

Na die swaar verliese wat die Islamitiese Staat (IS) gely het in die noorde van Sirië het die terreurgroep die hulp van Al-Kaïda ingeroep om verlore grondgebied te herwin.

Tientalle van die mees ervare en deurwinterde vegters van Al-Kaïda is in die geheim na Sirië gestuur om die geweld wat reeds meer as 5 jaar duur, voort te sit en verlore aansien te herwin.

Die IS-terroriste het enorme terugslae gehad toe Russiese magte die een na die ander vernietigende aanval op hulle basisse en vestings uitgevoer het.

Na raming het die IS-terroriste sowat 55% van hulle verowerde gebiede verloor, en talle leiersfigure het in die proses omgekom.

Dit het hulle genoop om Al-Kaïda, wat waarskynlik die mees ervare en gevreesde terroristegroep ter wêreld is, se hulp in te roep.

Alhoewel die Al-Kaïda se filiaal, Jabhat al-Nusra (JN), reeds jare in Sirië veg, het hulle as eerste terreurorganisasie gesukkel om groot oorwinnings te behaal aangesien hulle bestuur is deur ’n derde groep, die Ayman al-Zawahiri (AZ) wat in Pakistan ingegrawe is.

Al-Kaïda is blykbaar van plan om ’n “nuwe” hoofkwartier in te rig nadat Rusland die stryd gewen het in Raqqa wat voorheen deur die terroriste beheer was.

Die moontlikheid dat Raqqa weer die teiken word, is nie uitgesluit nie, want daar is honderde stryders gewerf en ander gedwing om saam met die IS-magte te veg.

Al-Kaïda beoog om eers ’n  hoofkwartier te vestig, waarna die stryd begin sal word om ’n eie “staat” te vestig deur ’n deel van Sirië volkome te beheer.

Enkele jare gelede het die IS sy bande met Al-Kaïda verbreek, maar na die groot terugslae weer toenadering gesoek wat gelei het tot nuwe samewerking.