Terroriste dood 150 in Sirië

Die terreurgroep, Islamities Staat (IS), het verantwoordelikheid aanvaar vir die slagting tydens verskeie bomaanvalle waarin 150 mense omgekom het.

In die kusstrook van Tartous en Jableh, wat in die Siriese regeringsgebied is, het verskeie ontploffings die lewens van burgerlikes geëis.

Waarnemers wys daarop dat die ontploffings van bepaalde betekenis is omdat dit die hartlandgebied van president Bashar al-Assad is waar onrus baie selde voorkom weens die sterk teenwoordigheid van regeringsmagte

Volgens berigte is sewe verskillende ontploffings gister aangemeld wat deur die terroriste beplan en uitgevoer is.

Verskeie van die ontploffings was naby twee Russiese militêre basisse, waarvan een ’n belangrike vliegtuigbasis is buite die stad Latakia.

Talle lugaanvalle op vestings van die Islamitiese Staat is vanaf die basis uitgevoer, en waarnemers wys daarop dat die terroriste dit wil tuisbring dat die Russe ook ’n teiken is.

Elektriese toevoer is beskadig toe ’n groot substasie in die slag gebly het asook ’n busterminus is beskadig.

Dit is blykbaar die grootste aanval wat deur die IS-vegters op een dag uitgevoer is, wat bevestig dat die organisasie nie maklik uitgeskakel gaan word nie.