Terroriste beheer dele van Irak

Die terroristegroep, Islamitiese Staat (IS) beheer steeds groot dele van Irak te midde van swaar verliese wat hulle in die afgelope maande gely het toe Siriese soldate, onder leiding van Russiese bevel, die een aanslag na die ander gevoer het.

Die aanvalle is gerugsteun deur Russiese vegvliegtuie wat met missiele en bomme die terroriste se vestings platgevee het en hulle gedwing het om die wyk te neem.

Opnames wat gemaak is gedurende die afgelope maand toon egter dat die IS-magte minstens 14% van Irak se grondgebied beheer.

Die inligting is deur die regering van Irak bekend gemaak tydens ’n mediakonferensie.

Die terroriste het egter hulle grootste houvas op stede in Irak grotendeels verloor, maar besit nog die beheer in kleiner plattelandse dorpe.