Taxi-bestuurder in hof oor Gluckstadt-moorde

‘n Taxi-bestuurder sal na verwagting môre in die landdroshof op Vryheid verskyn in verband met sy vermeende betrokkenheid by die moord op Billy van Rooyen (38 jaar) en sy skoonpa, Ronnie Lombard (62 jaar) verlede maand op hul plaas naby Gluckstadt.

Hy het na bewering die groep aanvallers wat die moorde gepleeg het, rondgekarwei.

‘n Bende aanvallers het met AK47’s’en haelgewere die vier huise op die Van Rooyen-plaas omsingel voordat hulle Billy en sy skoonpa doodgeskiet het.

Agt mans is dieselfde aand waartydens die moorde plaasgevind het, aangekeer, maar weer later vrygelaat omdat hulle glo nie met die misdade verbind kon word nie.

Die bende aanvallers is klaarblyklik nog op vrye voet.