Tabasco-rissieplante

Tabasco-rissies is van die Capsicum frutescens spesie. Hierdie plante kom oorspronklik uit Mexiko. Dit is natuurlik baie bekend by ons in die vorm van Tabaxco-sous. Die rissies is vernoem na die Mexikaanse staat van Tabasco.

Om Tabasco-rissies te plant moet ons die bedding goed voorberei met ‘n donker baslaag, ten minste ‘n week voordat die plantjies geplant word. Dit sal die grond warm maak om beter groeitoestande vir die jong plantjies te kry. Die baslaag sal ook help om die grond lekker klam te hou. Hierdie rissies vertoon natuurlik vreeslik pragtig in potte. Rissieplante is redelik siektevry en ook goggas is nie te lief vir hulle nie. Tabasco-rissieplante groei tot 1,5 m hoog en dit dra ook ‘n romerige/geel blommetjie waaruit die vruggies dan ontstaan.

Alle rissieplante word baie maklik beskadig tydens hul swaar dragte vrugte. Dit sal voordelig wees om stutte by elke plant in te sit en dan die plante vas te maak daaraan. Bronne beveel aan dat ons nie die plante met tou moet vasmaak nie, maar liewer rubberrekkies moes gebruik en dit moet lossies vasgemaak word sodat die plant nie afbreek tydens die groeiproses nie.

Rissieplante moet genoeg water kry. Dit benodig genoeg water vandat die plantjies geplant is totdat die hele oes af is en die seisoen verby is. Dit moet wel in goedgedreineerde grond geplant word. Rissieplante hou van warm klimate en moet dus in die warm gedeelte van die tuin geplant word. Moenie te veel voedsel toedien nie, want dit veroorsaak dat die plant se blare te dig raak en dan sal die vrugte dalk nie genoeg lug en lig kry nie. Volg die instruksies op die saadpakkies en die raad wat u kwekerye sal verskaf. Die klein vruggies van hierdie plante wissel in kleure van geel-groen en word dan rooi as dit begin ryp word. Ons kan die rissies op enige stadium oes, maar wanneer dit heeltemal ryp is, sal die smaak die beste wees.

Tabasco-rissies word vars en gedroog gebruik in ons disse. Indien u die rissies vars gaan gebruik, word dit aanbeveel om dit te pluk en so gou moontlik te gebruik anders sal die smaak verlore gaan. Daar is ook sommer heelwat resepte om rissies in te lê. Dit kan ook gevries word, maar die smaak gaan verlore. Die beste is om rissies te droog, sommer aan die plant. Dit is ‘n stadige proses.

Tuiniers, geniet u tuin tot volgende keer.