Sy het nie ‘n bang haar op haar hoof nie

‘n Onderwyseres van die Hoërskool Grenswag in Rustenburg het vreesloos op ‘n rower afgestorm wat drie van haar leerlinge met ‘n rewolwer aangehou het.

Toe hulle gil, het juf. Laeticia Botha gestorm en vir hom geskreeu: “Leave them alone!”, waarna die rower sy vuurwapen op haar gerig en ‘n skoot afgevuur het, maar dit was mis.

Die drama het vandeesweek net na 9 uur begin toe die rower leerlinge van hulle selfone wou beroof op die sportterrein, waar juf. Botha besig was om liggaamsopvoeding te gee.

Hy het toe in die skoolgange afgestorm terwyl hy wild en wakker skote afgevuur het op onderwysers wat uit hulle klasse gestorm het, maar die skote is in die lug geskiet.

Die rower het uiteindelik oor ‘n heining ontvlug.

Terwyl klaskamerdeure een na die ander gesluit is, het van die leerlinge laat spaander na die skoolkantoor, waarvandaan die polisie ontbied is.

Die leerlinge is vir die res van die dag huis toe gestuur, maar skoolbedrywighede sal vandag normaalweg voortgaan.