Swerm polisielede keer verdagte aan

Drie verdagtes in die sogenaamde Parys-moorde sal waarskynlik vandag in die plaaslike landdroshof op aanklag van moord verskyn nadat hulle die afgelope week in hegtenis geneem is.

Sowat tien lede van die polisie, waaronder lede van die Valke, was glo teenwoordig toe die seun van een van die beskuldigdes, Loedie van der Westhuizen (18 jaar), in hegtenis geneem is.

‘n Matriekseun van Potchefstroom Gimnasium, Cor Loggenberg (18 jaar) is vandeesweek ná skool deur die Valke in hegtenis geneem.

Die aanstaande skoonseun van een van die beskuldigdes, Miela Jansen van Vuuren (22 jaar), is op dieselfde dag gearresteer.

Al drie die mans sal weer Vrydag saam met die ander verdagtes in die saak verskyn. Hulle is Boeta van der Westhuizen, Anton Loggenberg, Müller van der Westhuizen (19 jaar), Wian van der Westhuizen (20 jaar), Fanie Oosthuizen (42 jaar) en kapt. Henk Prinsloo (46 jaar).

Na wat berig word, is twee plaaswerkers dood nadat ‘n groep boere gereageer het op ‘n noodoproep omtrent ‘n plaasaanval op die plaas van mnr. Loedie van der Westhuizen (73 jaar) in die Parys-distrik.

Volgens gerugte het die werkers ‘n loongeskil met sy seun, Boeta, gehad en was daar glo glad nie ‘n plaasaanval nie.