Steenkool en kernkrag sal ligte aanhou

Eskom beoog om die volgende vyf jaar R580 miljard te spandeer om sy elektrisiteitsvoorsieningsvermoë uit te brei.

Dit sal hoofsaaklik gefokus wees op steenkoolgedrewe kragstasies en atoomenergie, aldus die hoofuitvoerende beampte van Eskom, Mongezi Ntsokolo.

Volgens hom was Eskom in staat om 2 000 MW hernieubare krag tot die nasionale netwerk te voeg, maar sal in die toekoms op steenkool en kernkrag staatmaak.

Hy het tydens ‘n openingsrede by die internasionale handelsentrum in Kaapstad ook deeglik voorbrand gemaak vir die beoogde atoomenergieprogram van die regering.

Hierdie program is gehul in groot omstredenheid en bespiegelinge is dat dit een van die grootste dryfkragte van korrupsie in die ANC kan wees.

Twee kundiges aan die Universiteit van Kaapstad, proff. Trevor Gaunt en Anton Eberhard het tydens ‘n onlangse lesingsdebat hulle uitgelaat oor die moontlikheid van korrupsie in die beoogde program.