Staatskole staan by kruispad

Volksgerigte skole, privaatonderwys asook tuisonderrig in Sentraal-Transvaal het pas ‘n baie groot hupstoot gekry vanweë die konstitusionele hof se hofbeslissing dat die mag om te bepaal wie in watter skole nou oorgaan na die provinsiale onderwysowerheid.

Die beslissing ten gunste van die hoogs omstrede LUR vir onderwys in Sentraal-Transvaal, Panyaza Lesufi, teen die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrika (Fedsas) beteken dat skole se beheerliggame se magte heeltemal ingeperk word.

Adjunkhoofregter Dikgang Moseneke en die ander regters van die konstitusionele hof het in ’n eenparige uitspraak teen Fedsas in sy laaste appèlproses beslis dat dit wat Lesufi wil deurvoer (om onder meer te besluit watter leerlinge waar geplaas kan word) is “rasioneel, redelik en regverdigbaar”.

Die appèlhof het laat verlede jaar ten gunste van Lesufi beslis in ’n geding teen Fedsas. Dié beslissing het aan hom die mag gegee om te besluit of ’n skool vol is of nie.

Fedsas het toe appèl aangeteken by die konstitusionele hof. Die hof moes beslis oor die geldigheid van die wysigings wat Lesufi aan die reëls vir toegang tot openbare skole in Sentraal-Transvaal aangebring het.

Fedsas se argumente dat die wysigings beheerrade se magte wegneem en die provinsiale wetgewing strydig met die nasionale wetgewing is, is deur die konstitusionele hof van die tafel gevee.  

Die bepaling dat leerlinge wat in ‘n vyf kilometer radius van ‘n skool woon of waarvan die  ouers naby ‘n skool werk, was volgens Lesufi en sy ondersteuner gebaseer op ‘n geografiese – en rassegrondslag, en het swartes uitgesluit van bemiddelde skole. Lesufi moet nou binne 12 maande sogenaamde voedingsgebiede vir skole vasstel.

Die hofbeslissing plaas onderwys, en spesifiek enkelmedium Afrikaanse onderwys in staatskole by ‘n kruispad.