Staat hoes vir advertensies

Miljoene rande is deur net een van die ANC-staat se departemente na die Guptas se mediabelange gekanaliseer deur middel van sogenaamde staatsadvertensies wat in die broers se mediablaaie verskyn het.

 

Indien die spandering van al die staatsdepartemente aan vermeende advertensies in die Gupta se mediablaaie bymekaar getel kon word, sou dit hoogs waarskynlik miljarde beloop.

 

Intussen het dit aan die lig gekom dat die departement van landbou, bosbou en visserye tussen 2011 en 2015 sowat R3,4 miljoen aan die Guptas se media-ondernemings betaal het.

 

Dit het gebeur terwyl Tina Joemat-Pettersson aan bewind van die departement was. Sy is tans minister van energie.

 

Haar opvolger, Senzeni Zokwana, het ‘n opposisieparty se vrae oor die uitgawes aan die Guptas in die parlement beantwoord. Dit wil voorkom asof die departement onder hom tot dusver baie ‘konserwatiewe’ betalings aan die Gupta-broers gedoen het.