Spioene en agente benut vir Zuma en ANC

‘n Hele netwerk van spioene, intelligensie-agente en huurlinge is op staatskoste deur president Jacob Zuma gebruik om bepaalde opruimingswerk en take te verrig vir sy eie gewin en dié van die ANC.

Hierin is onder meer oud-agente gebruik om Zuma se saak by die Seriti-kommissie oor die wapenskandaal te versterk en om ‘n vyandige vakbond te verswak, aldus die ondersoek van ‘n bekende Afrikaanse Sondagkoerant.

Die betrokke kommissie het onlangs na etlike jare bevind daar was geen ongerymdhede in Suid-Afrika se wapentransaksie nie.

Aansienlike bedrae belastinggeld is vir albei projekte tot voordeel van die ANC gebruik. Voorts was Zuma self ‘n sleutelfiguur in die beplanning van die operasies volgens die media-ondersoek.

Een van die projekte behels die stigting van die vakbond Workers Association Union in 2014, en die stigter was getaak om lede by die anti-ANC Association of Mineworkers and Construction Union (AMCU) weg te rokkel. Laasgenoemde het na die Marikana-slagting in Augustus 2012 baie sterk na vore getree.

Nog ‘n kenmerk is dat van die mense wat gebruik is, op een of ander stadium groot somme geld geëis het weens wanbetaling of omdat hulle uiteindelik moes opdok vir rekeninge.

In die WAU-sage word daar R120 miljoen geëis van Zuma, die minister van staatsveiligheid, David Mahlobo, twee ander kabinetslede en die waarnemende polisiehoof

In die geval van die wapen-sage is ‘n skikking buite die hof bereik omtrent ‘n dispuut oor geld wat geskuld is vir werk wat gedoen is. Hier was ‘n eis teen Zuma en Kie ingedien.