Spesiale verlof vir regter gevra

n Versoek om die Pretoriase hooggeregshof regter Mabel Jansen op “spesiale verlof” te plaas is na die minister van justisie, Michael Masutha, gestuur hangende ‘n ondersoek oor aanklagte van rassisme teen haar deur die Geregtelike Dienskommissie.

In ‘n verklaring het die Kommissie die publiek versoek om die proses sy gang te laat gaan en om verseker daarvan te wees dat die instelling reg en geregtigheid in die saak sal laat geskied.

Van die regter se mededelings wat sy ‘n jaar gelede tydens ‘n openbare Facebook-debat gemaak het en uitlatings wat sy baie onlangs in private korrespondensie teenoor die aktivis en filmmaker, Gillian Schutte gemaak het, is deur Schutte op Facebook en Twitter geplaas.

Jansen se mening in hierdie gesprekke op sosiale media dat swart mense ‘n groter geneigdheid tot verkragting in hul kultuur het, het ‘n hele openbare storm ontketen, en sy word as ‘n rassis uitgekryt.

Haar kop word deur verskeie instellings en politieke partye geëis.