Spanning tussen Bolivia en Chili

Bolivia het beskuldigings geslinger na Chili dat hulle ’n militêre basis oprig naby die gesamentlike grens en ’n rivier waaroor hulle met mekaar verskil.

Chili het die beskuldiging ontken, wat die spanning tussen die twee Suid-Amerikaanse state verder verhoog het.

President Evo Morales van Bolivia beskuldig Chili daarvan dat die land se nuwe militêre basis slegs 15 km van die grens tussen die twee lande is, en ook baie na aan die Silala-rivier waaroor daar ’n ernstige dispuut tussen die twee lande is.

Die president sê die internasionale norm is dat ’n basis nie nader as 50 km van die gemeenskaplike grens opgerig word nie, en die basis wat opgerig word, word beskou as ’n daad van aggressie.

Die minister van buitelandse sake in Chili, sê egter dat die militêre basis waaroor die buurland beswaar maak, bestaan nie.

Pres. Morales het gedreig om die aangeleentheid na die Internasionale Hof te neem om uitsluitsel te kry oor Bolivia se Silala-rivierregte.

Chili beskou die rivier as internasionale water, maar Bolivia sê dit is ’n algemene bron wat benut mag word.

Die president het onlangs onder skoot gekom en kry swaar druk van sy party oor ’n skandaal waarby sy vorige vriendin hom betrek het en dit bekend gemaak is deur die Chili-regering.

Politieke ontleders meen die president voer die nuwe dispuut om die aandag weg te kry van die skandaal waaroor hy nou deur sy eie party blameer word.