Sowat 46% kiesers se adresse ontbreek nog

Die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK) het steeds nie voldoende adresse vir 46% van die sowat 26 miljoen kiesers wat geregistreer is om in die komende plaaslike verkiesings te stem nie.

Die hoofverkiesingsbeampte, Mosotho Moepya, het parlementslede ingelig dat die OVK glo kliphard daaraan werk om die situasie onder beheer te probeer kry.

Die grondwetlike hof het intussen uitspraak voorbehou in die dringende appèlaansoek van die OVK teen ‘n vroeëre uitspraak van die verkiesingshof dat die OVK die adresse van geregistreerde kiesers moet verskaf aan kandidate wat in die verkiesing staan.

Die OVK wil hê dat die verkiesingshof se uitspraak tersyde gestel moet word omdat miljoene mense gediskwalifiseer kan word om te stem indien die beslissing gehandhaaf word.

Die saak vloei voort uit ‘n beslissing van die grondwetlike hof dat die tussenverkiesings gedurende 2013 in Potchefstroom nie vry en regverdig was nie.