Skool vra verskoning oor spotprent

Die hoof van ‘n onafhanklike skool het opreg om verskoning gevra vir ‘n Zuma-spotprent in ‘n Engelse eksamenvraestel oor visuele geletterdheid.

Die Zapiro-spotprent van president Jacob Zuma, met ‘n stortkop bo sy kop geteken en wat in ‘n bad vol geld dryf terwyl hy ‘n drank geniet, was eens te veel vir die LUR vir onderwys in Sentraal-Transvaal, Panyaza Lesufi.

Die spotprent sinspeel baie duidelik op die voortslepende Nkandla-skandaal.

Knap nadat ‘n ouer die aangeleentheid onder Lesufi se aandag gebring het, het hy op sosiale media sy misnoeë daaroor te kenne gegee en gedreig dat die koppe sal rol.

‘n Departementele span is daarna die betrokke skool gestuur om die skoolhoof, departementhoof en onderwyser te spreek.

Die provinsiale departement van onderwys het intussen die verskoning van die skoolhoof aanvaar vir enige “hurt or distress” wat deur die spotprent veroorsaak is.

Die hoof het ook die departement verseker dat daar geen kwade bedoelings was nie en dat die skool in die vervolg nie enige spotprente sal gebruik wat moontlik enige vorm van verwarring of spanning sal veroorsaak nie.