Sindikaat bedrieg Sassa

Lede van ‘n reuse bedrogsindikaat wat etlike miljoene rande se welsynstoelae by die Suid-Afrikaanse Agentskap vir Maatskaplike Dienste (Sassa) gesteel het, is vasgetrek.

Sindikaatlede, waaronder Sassa-amptenare, is in die Kaap, Sentraal-Transvaal en Wes-Transvaal gearresteer omdat hulle Sassa uit sowat R2,3 miljoen bedrieg het. Na verwagting sal nog mense binnekort aangekeer word.

Hulle het glo bedrog met meer as 400 welsynstoelaes gepleeg en dit vorm deel van ’n wyer ondersoek van 4 776 bedrieglike maatskaplike toelaes ten bedrae van sowat R34,7 miljoen.

Meer as 500 gevalle van identiteitsbedrog wat verband hou met die welsynstoelaes het tydens die ondersoek op die lappe gekom.

Die polisie het beslag gelê op skootrekenaars, skandeerders, kopieermasjiene, ID-boekies, Sassa-masjiene om begunstigdes te registreer, bankkaarte en Sassa-kaarte.