SAUK se lofsangers is ‘n duur luukse

Die Suid-Afrikaanse Uitsaaikorporasie het die afgelope twee boekjare R6,7 miljoen spandeer aan sy eie koor, en beoog om ‘n verdere R3,7 miljoen aanstaande jaar op die koor uit te gee.

Die koor, oftewel lofsangers het baie onlangs nog die SAUK-hoof, Hlaudi Motsoeneng trakteer met ‘n liedjie, “‘Hlaudi Motsoeneng reya o leboha” (Hlaudi Motsoeneng ons bedank jou).

Dit het verlede jaar aan die lig gekom dat die koor tydens personeelvergaderings die liedjie sing, alhoewel dit intussen ten sterkste ontken word dat dit steeds gedoen word.

Benewens hierdie liriek is daar glo ook ‘n opdrag gegee aan die SAUK se 18 radiostasies om op ‘n baie gereelde grondslag ‘n liedjie van Mzwakhe Mbuli en ander plaaslike sangers te speel waarin Mosoeneng geprys word vir sy besluit om ‘n 90% plaaslike musiekinhoud deur te voer.

Die opposisie het in die parlement daarop aangedring dat die koor ontbind moet word sodat onnodige uitgawes by die SAUK gesny kan word.