Samelewing skynheilig oor ras

Die samelewing is skynheilig volgens die rolprentmaker en aktivis, Gillian Schutte, in die hantering van uitsprake oor rasse op sosiale media.

Na die onlangse rassevoorval in ‘n Kaapstadse koffiewinkel en ‘n gespog daaroor op sosiale media is die medestigter van die Rhodes must fall-beweging, Ntokozo Qwabe, “in die openbaar gebraai,” aldus Schutte. 

Hy het vertel hoe hy en sy tafelgenoot ‘n kelnerin tot “wit trane” gedryf het. Agterna het hy in ‘n onderhoud, wat op video te siene is, dit ook baie duidelik gestel dat die nie handel oor kelnerin nie, maar oor “whiteness’’.

Hierteenoor is regter Mabel Jansen se uitlatings tydens ‘n openbare Facebook-debat in Mei verlede jaar dat verkragting deel van die swart kultuur is net “verwaarloos,” oftewel net oorgesien, meen Schutte.

Dele van Jansen se gesprek tydens die betrokke debat is klaarblyklik weer herhaal in ‘n baie onlangse private korrespondesie tussen haar en Schutte. Laasgenoemde het hierdie menings, wat Jansen sê sy baseer op die strafsake wat sy aangehoor het en die werklikheid, oor die naweek op Twitter en Facebook geplaas.

Volgens Schutte het sy dit gedoen om die skynheiligheid van die samelewing te ontbloot.

Sedertdien het ‘n hele storm losgebars waaraan politieke partye en verskeie organisasies soos onder meer die Black Lawyers Association deelneem om Jansen by die Geregtelike Dienskommissie aan te kla. 

Stemme het ook opgegaan dat al die hofsake waarin sy uitspraak gelewer het, hersien moet word omdat sy glo bevooroordeeld sou wees.

Foto – Gillian Schutte en haar man, Sipho Singiswa, en hul seun.