SAL het gebreekte vlerke

Die staatsbeheerde Suid-Afrikaanse Lugdiens is omtrent vasgevang in ‘n wurggreep aangesien die adjunk-minister van finansies, Mcebisi Jonas eis dat ‘n nuwe direksie aangestel moet word voordat die instansie verdere staatsgeld ontvang om dit van ondergang te red.

Maar die SAL-voorsitter, Dudu Myeni, en president Jacob Zuma is hegte vriende en hy dring daarop aan dat sy behou moet word. Sy voer die afgelope tyd aan dat ‘n rassistiese veldtog in SAL-geledere teen haar gevoer word.

SAL was nog nie in staat om sy 2014/’15 finansiële state voor te lê nie en dit word betwyfel of die redery as ‘n lopende saak beskou kan word.

Desondanks het president Jacob Zuma tydens ‘n moniteringsbesoek aan die SAL gesê: “die SAL sal nooit verkoop word nie, afgesien van wat enigeen ook kwytraak.”