Russe en Grieke vat hande

Die Russiese president, Vladimir Poetin, het blykbaar ’n reeks ooreenkomste gesluit met Griekeland wat belangrike ekonomiese transaksies insluit.

Die transaksies is beklink tydens Poetin se besoek aan Athene met die doel om die bande tussen die twee lande te versterk.

Die ooreenkomste en besoek aan Griekeland volg te midde van die groeiende spanning tussen die Europese Unie (EU) en Rusland.

Die regering van Griekeland het die verbetering in verhoudinge met Rusland verwelkom en gesê die ekonomiese ooreenkoms wat aangegaan is, sal Griekeland help om sy ekonomiese krisis te bowe te kom.

Die Grieke is die enigste lidland van die EU wat goeie verhoudinge met Rusland handhaaf, en is volgens die regering, ’n voortsetting van ’n jarelange verbintenis.

Die Russe se verhouding met die EU het vertroebel na die pro-Russiese rebelle in die Krim-gebied weggebreek het uit die Oekraïne en aansluiting by Rusland gevind het.

Die Griekse minister van handel sê in ’n verklaring dit is nie Griekeland wat sanksies teen Rusland ingestel, of goedgekeur het nie, en gaan voort soos in die verlede deur goeie handelsbetrekkinge te handhaaf.