Rusland se indrukwekkende magsvertoning

Rusland het die afgelope dae met ’n indrukwekkende magsvertoon die land se inwoners beïndruk toe derduisende soldate en gesofistikeerde toerusting vertoon is in die jaarlikse militêre parade op die Rooiplein in Moskou.

President Vladimir Poetin het ook van die geleentheid gebruik gemaak om die snelle ontwikkeling van sy enorme leërmag aan die wêreld te vertoon.

Waarnemers sê die parade het ook ten doel om Rusland se militêre slaankrag aan veral Amerika en die NAVO-lande te vertoon, wat ’n opvolg is van die sukses wat die lugmag en soldate in Sirië openbaar het.

Die nuwe T-14 oorlogstenks en S-400 missieldraers asook die RS-24 langafstand missiele met kernbomkoppe het ’n geweldige indruk op die toeskouers gemaak.

Om die modernisering van die Russiese weermag te beklemtoon, is ’n paar duisend vroulike soldate in netjiese uniforms in ’n verby-mars gesien wat die derduisende toeskouers se gejuig ontlok het.

Sowat tienduisend soldate het op die Plein ’n foutlose vertoning gelewer terwyl die gesofistikeerde, swaar wapentuig, aan die verbybeweeg was.

Vegvliegtuie het in asemrowende formasies die blou lug deurklief om dit ’n luisterryke besienswaardigheid te maak.

Vuurpyle wat glo oor die vermoë beskik om oor ’n afstand van 11,000 kilometer sy teiken te vernietig, is so geprogrammeer dat dit selfs die Amerikaanse missieljagter ontduik.