Regime sloer oor droogte

Die ANC-regime haas hom uiters langsaam om die knellende droogte, wat reeds sedert verlede jaar in baie dele van die land voorkom, tot ‘n nasionale ramp te verklaar nie.

Die departement van landbou, bosbou en vissery het darem kennis geneem van die parlement se besluit om ‘n mosie goed te keur waarvolgens ‘n debat gevoer moet word sodat die droogte tot ‘n nasionale ramp verklaar kan word.

Die debat sal eers plaasvind tydens die volgende sitting van die parlement wat na verwagting in reses sal wees tot na die plaaslike verkiesingstryd in Augustus.

Die droogte is reeds in sewe van Suid-Afrika se nege provinsies tot ’n ramp verklaar.

Lesotho, Swaziland en Zimbabwe het ook ramptoestande verklaar. Die droogte is egter nog nie tot nasionale ramp in Suid-Afrika verklaar nie.

Alhoewel die ergste El Niño-weerverskynsel in twee dekades verby is volgens die Australiese Buro vir Meteorologie het dit ‘n spoor van verwoesting in veral Suid-Afrika se somersaaigebiede, maar ook elders in die land tot gevolg gehad.