Pres. Rousseff nader hof paniekerig

Brasilië se president, Dilma Rousseff, het op die laaste minute ’n aansoek geliasseer by die land se hooggeregshof om die voortsetting te stop van die proses om haar in ’n staat van beskuldiging te plaas.

Terwyl die horlosie die sekondes aftik voor die senaat se stemming sou plaasvind, het Rousseff die laaste poging aangewend om te keer dat sy afgesit word as die land se president.

Die hof is in sitting om die saak aan te hoor, slegs 12 uur voordat die senaat ’n beslissende stemming moet hou.

“Ek weier om te bedank, en sal stry tot die bitter einde”, het president Rousseff aan die media gesê.

Sy sê dit het nooit by haar opgekom om te bedank nie, en is beslis nie van plan om dit nou te doen nie.

“Ek sal aanhou veg met al my kragte, en sal elke moontlike metode aanwend in my stryd”, het sy gesê.

Sy hou vol dat die aanslag teen haar ’n kapingspoging is en ontken die aanklag dat sy die begrotingswette gebreek het en by ’n olie-skandaal betrokke is.

Haar bewering dat die middelregse koalisievennoot, wie se leier ook die vise-president is, agter die hele vervolging sit, word egter nie deur die miljoene kiesers geglo nie.

Die vise-president, Michel Temer, het met sy regse party weggebreek uit die koalisie met die Werkers Party van Rousseff, waarna die onmin na die oppervlakte gekom het.