Poskantoorstaking eindig, voorlopig?

Die vakbond, CWU (Communication Workers Union), met sy 22 000 lede, het aangekondig dat die tweedag-staking teen die poskantoor (SAPO) beëindig is.

Die vakbondstaking in 2015 het die poskantoor se ondergang veroorsaak met ʼn gevolglike verlies van R1.5-miljard. Om suksesvol te kan voortgaan moet die poskantoor met ʼn kapitaalinspuiting van R2.7-miljard befonds word wat gedeeltelik deur die bewind voorsien moet word en die res by banke geleen moet word met regeringswaarborge.

Die poskantoor het reeds grootliks sy geloofwaardigheid by gebruikers verloor weens sy onbetroubare diens en daar word toenemend van alternatiewe posdienste gebruik gemaak, soms ten duurste, maar minstens betroubaar.

Daar is bekend gemaak dat die staking moontlik oor ʼn maand hervat sal word. Die vakbond kon vir sy staking van verlede week Donderdag minder as 1% lede-ondersteuning kry en moes dus noodgedwonge sy stakingsplanne hersien. Die onbegrip van vakbonde om hulle werkgewer te vernietig en daardeur werkloosheid te skep is verstommend.

Foto – CWU sekretaris-generaal, Clyde Merwin