Politieke leier van DRK skuil in SA

Met die politieke spanning wat styg in die Demokratiese Republiek van die Kongo (DRK), en na die arrestasiebevel wat uitgereik is teen die leier van die opposisie, het die Suid-Afrikaanse regime toegelaat dat hy hier kan skuil.

Moise Katumbi het sy land verlaat en na Suid-Afrika uitgewyk waar hy glo “onder die land se sorg geplaas is”.

Die DRK se minister van justisie, ene Alexis Thambwe Mwamba, het verlede Vrydag gesê Moise Katumbi het ’n versoek gerig “om toegelaat te word om na Suid-Afrika te vertrek weens mediese redes waarvoor hy glo ’n sertifikaat kon toon”.

Dit het glo die DRK se aanklaer laat besluit om toestemming te gee dat hy die land mag verlaat.

Die DRK-owerheid het egter die voorwaarde gestel dat die politieke opposisieleier weer moet terugkeer na die land om die aanklagte teen hom die hoof te bied.

Dit is nie bekend hoe die DRK-regering hom gaan dwing om terug te gaan nie, veral omdat die land se president glo besig is om opponente te vervolg, en daarmee die verkiesingsdatum vertraag in ’n poging om aan bewind te bly.

Die Vryburger kon nie vasstel hoe lank Moise Katumbi in Suid-Afrika gaan vertoef en wie vir sy verblyf en moontlike behandeling sal betaal nie.

Foto – Moise Katumbi