Politieke ineenstorting wag op Irak

Groot optogte, die bestorming van die Irakse parlement en protesteerders in strate, het tot chaos gelei in Bagdad, die hoofstad van Irak.

Die voorstanders van hervormings is op die voorgrond, maar in die agtergrond woed ’n magstryd waarin die Islamitiese Staat (IS) terroriste besig is om geleidelik groter invloed uit te oefen op die bevolking.

Die een groot rede waarom opstand en anargie dreig om los te bars, is oor die toedeling van die land se ryk olievelde.

IS-magte het groot en ryk velde verloor toe Russiese vegvliegtuie dit gebombardeer het, en nou probeer die terroriste om seggenskap te kry oor sekere dele van die olievelde, terwyl rebellegroepe ook hulle deel probeer afpen.

Politieke waarnemers sê die weermag van Irak toon ’n willoosheid wat die terroriste aanmoedig om groter gebiede te beset, terwyl die rebellegroepe ook in opstand is teen die terroriste en die regering.

Die afgelope naweek het duisende oproeriges en ondersteuners van die IS-terroriste ’n sentrum in Bagdad bestorm en honderde plakkate en baniere vertoon met slagspreuke en eise.

Die skare het beweeg na die goed beveiligde Groen Sone, ’n gebied waar die parlement, die ambassades, en ministers se wonings is.

Honderde betogers het later die gebou van die Huis van Afgevaardigdes vir etlike ure beset sonder noemenswaardige weerstand van die regeringsmagte.

Swaar druk word toegepas op die land se premier, maar kenners meen die onluste kan vinniger tot bedaring kom deur die rebelle se klagtes aan te hoor en hulle deel van die besluitnemingsprosesse te maak.