Plunderaars van Aurora moet opdok

Geregtigheid het uiteindelik na vyf jaar geseëvier met ‘n appèlhofuitspraak wat die Aurora-direkteure in hulle persoonlike hoedanigheid aanspreeklik hou vir skade en 5 300 werkers se uitstaande salarisse.

Die appèlhof het vandeesweek die appèl van die vyf direkteure, waaronder pres. Jacob Zuma se broerskind, Khulubuse Zuma, en Nelson Mandela se kleinseun, Zondwa Mandela tel, van die hand gewys.

Hulle het geappelleer teen ‘n hooggeregshofuitspraak van regter Eberhardt Bertelsmann, wat bepaal het dat Zuma, Mandela, Thulani Ngubani, Solly Bhana en Fazel Bhana in hul persoonlike hoedanigheid aanspreeklik gehou moet word vir Aurora se “roekelose” wanbestuur van die Pamodzi-mynbates ter waarde van R1,7 miljard.

Dit beteken dat hulle uiteindelik moet opdok, na jare se ontduiking van aanspreeklikheid, andersins sal hulle gesekwestreer word.

Strafregtelike ondersoeke teen hulle rakende korrupsie en growwe wanbestuur asook die moontlikheid van vervolging is volgende aan die beurt.

Khulubuse Zuma se oorsese bates is onder die soeklig, aangesien sy naam onder meer in die uitgelekte Panama Papers by die olieveldskandaal in die Demokratiese Republiek van die Kongo (DRK) betrek word.

Foto – Khulubuse Zuma