Panama Papers – Suid-Afrikaners onder die loep

Meer as 1 800 Suid-Afrikaanse individue en entiteite se belasting-nakomingstatus word tans deur die Reserwebank bekyk rakende internasionale belastingsontduiking wat in die uitgelekte Panama Papers op die lappe gebring is.

Luidens die jongste inligting omtrent die Suid-Afrikaanse owerhede se ondersoek kon daar tot op datum sowat 1 700 individuele Suid-Afrikaners, 56 Suid-Afrikaanse tussengangers en 79 oorsese entiteite wat bande met 81 Suid-Afrikaners het uit die beskikbare data geïdentifiseer word.

Die Panama Papers is deur ‘n Duitse koerant, ‘n konsortium van ondersoekende joernaliste en nuusorganisasies bekend gestel en onthul ‘n hele netwerk prokureursfirmas en groot banke wat beskerming aan superrykes verkoop het.

Die Reserwebank is besig om die betrokkenheid van individue te evalueer en sal ook bepaal of die oorsese geld met misdaad verbind kan word. Voorts sal daar ook vasgestel word of enige finansiële wette met die belegging daarvan oortree is.

Van die Suid-Afrikaners wat in die Panama Papers genoem word, is pres. Jacob Zuma se broerskind, Khulubuse Zuma, en sy bande met die olieveldskandaal in die Demokratiese Republiek van die Kongo (DRK).

Foto – Khulubuse Zuma