Oud-soldate word weer herdenk

Die jaarlikse herdenkingsdiens by die SA Weermag Muur van Herinnering word eerskomende Sondag by die Voortrekkermonument Erfenisterrein gehou.

Volgens die Raad van Militêre Veterane Organisasies (RMVO) sal dit op Sondag 29 Mei plaasvind.

Die verrigtinge begin om 09h00 vir 09h30, en na verwagting sal daar weer sowat 700 belangstellendes opdaag.

Die SA Weermag Muur van Herinnering is op 25 Oktober 2009 tydens ’n kransleggingsgeleentheid ingewy. Dit is bygewoon deur talle naasbestaandes van persone wat hul lewens verloor het gedurende die tydperk 31 Mei 1961 (Republiekwording) en 27 April 1994 (die datum waarop die SA Weermag in die nuwe SA Nasionale Weermag opgeneem is).

Veral naasbestaandes van afgestorwe lede is genooi om vanjaar se herdenkingsdiens op 29 Mei by te woon en ’n krans te lê of kruis te plant ter nagedagtenis van hul geliefdes.

Die verrigtinge word lewendig op internet uitgesaai en belangstellendes wat dit wil volg, kan by www.who-els.co.za inskakel.