Opwinding in parlement is al afgesaag

Die ou holrug geryde tonele het vir die soveelste keer in die parlement afgespeel toe alles weer ontaard het met EFF-parlementslede wat nogmaals probeer het om te verhinder dat president Jacob Zuma aan die woord kom.

Hulle het hewige teenstand gebied toe hulle deur die parlementêre beskermingseenheid verwyder is, en het op ‘n stadium selfs brandblussers ingespan.

Na hierdie opwinding het Zuma teruggeval op ontwykende antwoorde op die vrae wat aan hom gestel is.

Hy beweer dat hy nie gelieg het oor die verband wat hy op Nkandla het nie, dat hy die regbank respekteer en niks van die Guptas se doen en late weet nie.

Apartheid is soos altyd geblameer, en daarmee het Zuma die hoë werkloosheidskoers verklaar wat die ANC in sy 22 jaar bewind opgebou het.

Zuma het op ‘n stadium verval in een van sy tipies sorgelose lagbuie nadat hy oor ‘n opmerking van ‘n opposisielid dat hy ‘n grap is, teruggekap het: “nou, waarom lag jy dan nie?”

Die EFF se Julius Malema het belowe dat sy party sal voortgaan met pogings om Zuma uit sy pos te verwyder.