Op die Volksakker – Wie is die SARK werklik?

Die SA Raad van kerke is op die oog af ´n ekumeniese beweging – in teorie ´n forum vir kerke om oor sake van gemeenskaplike belang, binne en betreffende Suid-Afrika, gesprek te voer.

Die SARK is geaffilieer by die Wêreld Raad van kerke, met die verklaarde missie om ekumene – kerklike samewerking – wêreldwyd te bevorder.

Hoe pas hulle dit egter in praktyk toe?

Deur dekadelange steun aan Sowjet-geïnspireerde terreurorganisasies – met geld en steun.

Die sleutel hier is “Sowjet” – Lenin het kort na 1917 die konsep van internasionale kommunisme as doelwit gestel, met spesifieke teikens die kerke.

Hy was veral bedag teen kerklike verbanning of onderdrukking, en het deeglike, langtermyn infiltrasie van kerke as norm vir suksesvolle rewolusie gestel.

Die rewolusionêre optrede was die sigbare been, afgestem op terreur, vrees en onsekerheid.

Infiltrasie van kerke was die onsigbare been, afgestem op die vernietiging van die dieperliggende waardes, hoop en vertroue wat suiwer geloof bied.

Die wrange vrugte van kerklike verval was gesaai in die dekades 20 tot 40 van die vorige eeu!

As sulks was en is die SARK ´n draer van die ketterse Vryheidsteologie.

Frank Chikane, SARK president van 1987 tot 1994, was ´n produk van die swart bewussynsbeweging – ´n anti-blanke beweging wat internasionaal verantwoordelik was vir talle geweldsaksies, maar in SA oorskadu is deur die openlike terreur van die ANC en PAC.

Hy het in die spore van persone soos Desmond Tutu en Beyers Naudé gevolg by die SARK, was betrokke by die UDF en ander verbanne organisasies – verban nie vir swart nasionalisme soos beweer word nie, maar weens aanstigting van die wreedaardigste geweld denkbaar: halssnoermoorde, steniging, petrolbomaanvalle en lewendige verbranding.

Tans is hy betrokke by die AGS.

“Christelik” en “Christen” is erename – wanneer ons onsself as sulks tipeer, identifiseer ons met ons Verlosser.  Dan het ons die dure plig om daardie benaming waardig te wees in leer én lewenswandel.

Uit die Skrif leer ons hoe die Christen lyk: kan enige persoon wat deel was van terreur, moord, vernietiging van ´n land en die ontneming van ´n hele generasie se toekoms op daardie etiket aanspraak maak sonder grondige berou?

En wie homself “waardig” ag om in die openbaar sy voete te laat was, het bes moontlik nog nie die waarde van nederigheid geleer nie …