Op die Volksakker – Is daar ‘n politieke oplossing?

Die afgelope maande spandeer politieke partye miljoene der miljoene rand aan belastingbetalersgeld, om elkeen hul “oplossings” aann naïewe kieserspubliek op te dis.

Die OVK versuim reeds twee dekades – op voetspoor van regter Kriegler se “regverdigverklaring” van die 1994-fiasko, om ´n betroubare kieserslys saam te stel – betroubaar en gekontroleerd.

Intussen verkondig almal saam met politici dat “demokrasie” werk.  Dit terwyl ´n nie-betalende massa die produktiewe Afrikaner dieper in die ellende insleep, menslik gesproke.

Is daar ´n politieke oplossing?

Die kort antwoord is, “JA”, met hoofsaaklik een ononderhandelbare voorwaarde.

Party-politieke korrupsie moet gestaak word, en omrede partypolitiek by uitstek gemik is op die bevoordeling van ´n klein magselite, beteken dit dat die enigste werkbare politieke oplossing begin by die (terugwerkende) kriminalisering en uiteindelike uitfassering van partypolitiek.

Die kriminalisering is noodsaaklik, sodat politici vervolg kan word onder rampokker-wetgewing om die opgeblase, onverdiende “vergoedings” terug te eis namens belastingbetalers.

Ons moet terugkeer na volkspolitiek – verteenwoordigers uit die volk, vir die volk, wat volksdiens lewer en slegs ‘n minimale honorarium ontvang.

Politici verdien geen vergoeding nie – vergoeding sal beperk word tot ´n professionele en produktiewe staatsdiens.

Dienstermyne moet ook beperk word, en die vaardigste persoon moet die taak opgelê word, sodat ons ook ontslae kan raak van die honderd-en-een mishopie leiers wat oral opspring en verdeelheid in die hand werk.

Politici sal dan weer, soos van ouds, bloot rentmeesters en toesighouers wees.

Verder kan hierdie taak deur betreklik min persone behartig kan word, en met die voorbehoud van “volksdiens” sal dit manne en vroue wees wie se harte werklik by die volksbelang lê.

Natuurlik sal ons dit binne ´n volkstaat wil sien, maar selfs ´n volkstaat sál faal onder partypolitieke eiebelang – ons het dit reeds meermale gesien en beleef in ons volksgeskiedenis.

Klink dit vergesog?

Al wat dit verg, is ‘n volk om weer eerlik te antwoord op die vraag, “Afrikaner, quo vadis?” en dan terug te keer na ons ware waardes, ook in die volkspolitiek.