Oordink eers

Let op hoeveel mense dadelik begin om kommentaar op ‘n stelling te lewer voordat hulle die stelling goed oordink het. Soms stem hulle dadelik met ‘n stelling saam omdat dit al so dikwels herhaal is dat hulle dit as waar aanvaar, al sou dit onjuis wees. As voorbeeld, iemand verkondig dat daar nou minder gevangenes in Suid-Afrika in die tronke is as voorheen omdat daar minder sogenaamde diskriminerende wette is. Is dit waar?

 

Nog voorbeelde: Jan van Riebeeck was na die Kaap toe verban om hom af te sonder. Hy sou glo onrus by die HOIK gesaai het en word toe uit die pad gehaal. So ‘n onwaarheid word dan sonder meer versprei. Dat die staat Suid-Afrika voor 1910 nie bestaan het nie, beteken nie dat daardie hele grondgebied heeltemal onbewoon was nie. As iemand voor of in 1838 van Suid-Afrika sou praat, sou ander vra waar daardie land of staat is wat nie bestaan nie.

 

Alle stellings moet eers bedink word voordat kommentaar daarop gelewer kan word. Eerstens behoort die verteller of skrywer gevra te word waar hy aan die stelling of sy bewering kom. As sy verduideliking vaag is, moet ‘n betroubare bron geraadpleeg word voordat kommentaar gelewer kan word. Om sommer net ‘n siening te ondersteun of af te skiet voordat die spreker geleentheid gebied word om dit te verduidelik, is domastrant.

 

Selfs as ‘n spreker gevra word om te verduidelik, word hy dikwels nie die volle geleentheid gebied nie omdat hy na sy eerste sin summier onderbreek word met ‘n teenargument wat ‘n syspoor is. Oordrywing in ‘n hoorder of leser se eie gedagtes wat hy vir homself opdig, is gevaarlik. Dit beteken dat die persoon wat ‘n stelling betwyfel, nie oor die insig beskik om dieper te dink nie. Hy wil die toon aangee terwyl hy nie die touleier is nie. Grondbeginsels moet eerste uitgeklaar en lewenswaarhede aanvaar word.

 

Denkwyses, gewoontes en gebruike verskil van een groep mense teenoor ‘n ander groep op ‘n bepaalde terrein. Erkenning moet gegee word aan die verskeidenheid van sienings oor enige onderwerp of tema, hetsy die wetenskap, sielkunde, geloof, sport, of wat ookal.

 

Dieselfde beginsels is op alle gebiede van toepassing anders word jy in die wind rondgeslinger. As tennisspelers besluit om ‘n tennisklub te stig en tennis te bevorder en nie vir ander sportsoorte voorsiening maak nie, onderskei die tennisspelers, maar hierteen maak niemand beswaar nie. As ‘n groep gelowiges in hulle denke van ander kerkgenootskappe verskil en hulle dan ‘n eie kerk stig, word dit as vryheid beskou.

 

As ‘n volk egter eiesoortigheid as beginsel toepas en binne die volk se beginsels en verskeidenheid wil leef, word dit nie as vryheid beskou nie. Nee, die volk moet gedwing word om met ander te meng. Hoe rym dit met die begrip van vryheid en demokrasie? Dit bots ook met die wêreldwye siening soos nou met die vlugtelinge in Europa bewys.

 

Sommige mense is al so gebreinspoel dat hulle glo Suid-Afrika het ‘n demokratiese regering sonder dat hulle besef dat demokrasie slegs binne ‘n volk bestaan waar die meerderheid dan reg is. Net so dink oningeligtes dat die regering en die staat dieselfde begrip is. Raak eers vertroud met staatkunde of lees net ‘n woordeboek korrek.

 

Johan Dorfling