Ondersoek word gedoen na AFD leier

Die hoofleier van die “Alternatief vir Duitsland”, dr. Frauke Petry, word nou daarvan beskuldig dat sy ’n leuen vertel het in die Saksiese parlement, en gevolglik word ’n ondersoek na die bewerings gedoen.

Die beskuldigings spruit uit haar inligting wat gegee is rakende die lenings wat toegestaan is aan die regse politieke party waarvan sy die leier is.

Die vervolgers het Woensdag aangekondig dat hulle rede het om te glo dat Frauke Petry ’n leuen vertel het terwyl sy onder eed was in die parlement se verkiesingskomitee.

’n Staatsprokureur het gesê die parlement is in kennis gestel dat hulle die immuniteit teen vervolging moet ophef.

Dr. Petry was in November ondervra oor lenings wat haar party aangegaan het vir die party se kandidate.

Indien sy skuldig bevind word, kan sy tot vyf jaar hardepad kry, en politieke ontleders is dit eens dat die linkse politici alles moontlik sal doen om haar uit die verkiesing van 2017 te kry.

Die 40-jarige dame was verskeie kere op die voorblad van koerante weens haar optrede, en die formidabele groei van haar party stem die linkse politici tot groot kommer.

In Frankryk het die linkse politici ook moeite gedoen om Marine Le Pen te vervolg in die hoop dat sy uit Frankryk se verkiesing gehaal kan word.