Obama bekommerd oor media

President Barack Obama van Amerika het in ’n verklaring sy kommer uitgespreek oor hoe die media berig oor die Republikeinse presidentskandidaat, Donald Trump.

Vrydag het Obama die media en die kieserspubliek gevra om hulle woorde goed te kies oor wat en hoe hulle praat en skryf oor die kandidate wat in die wedloop is na die Wit Huis.

Obama sê die media is geneig om die belangrike beleidstandpunte van kandidate agterweë te hou en te fokus op die emosionele aspekte.

Hy sê Amerikaners het ’n goeie onderskeidingsvermoë en ook goeie beoordelingsvermoëns as hulle die korrekte inligting ontvang.

Politieke waarnemers sê Obama se oproep kom in die hoop dat Donald Trump kan vashaak oor beleidsake terwyl die Demokrate reeds jare se ervaring in die politieke arena het en beleidsake makliker kan formuleer.

Trump is reeds verskeie kere gekritiseer oor sy buitelandse beleid en het selfs die argwaan van Britte ontketen oor sy siening van NAVO-magte terwyl hy ’n neiging toon om nouer samewerking met Rusland te openbaar.

Intussen het Angela Merkel van Duitsland ook gesê sy beywer haar vir nouer samewerking met die Russe nadat die regse AFD party bekend gemaak het dat hulle groter samewerking met Rusland bewerkstellig.