OB moet ru-olie verkope bekyk

Die Openbare Beskermer (OB) is versoek om dringend ondersoek in te stel na die beweerde verkoop van bykans al Suid-Afrika se oliereserwes.

Die verkoop met net die goedkeuring van die energieminister, Tina Joemat-Pettersson, sou totaal onwettig en roekeloos wees, het adv. Anton Alberts van die VF Plus gesê.

Volgens die media het die Strategiese Energiefonds (SEF) sonder die medewete van die nasionale tesourie sowat 10 miljoen vate ru-olie in ʼn geslote transaksie teen ʼn ‘baie lae prys’ verkoop met net die goedkeuring van Joemat-Pettersson.

Dit laat die land glo met net sowat 300 000 vate wat nie eens genoeg reserwe vir ʼn enkele dag is nie. Die SEF is glo verplig om ʼn reserwe vir ten minste twintig dae te hou.

“Nie net is Suid-Afrika op die drumpel van ‘n kredietafgradering weens die Zuma-kamp se stryd om toegang tot die tesourie en die land se beursie te kry nie, maar dit blyk dat die batestroping van die res van die land se bates onverpoosd voortduur onder ‘n korrupte ANC-regering.

“Dit is daarom van die grootste belang dat die transaksies van die SEF tot op die been oopgevlek word,” het adv. Alberts gesê.